Rod Stewart, die rocker met die rasperstem, daardie kenmerkende deurmekaar blonde boskasie, ’n passie vir sokker en sy berugte reputasie wat vroue betref, is Dinsdag in alle erns “tot orde geroep”.
Die man wat al vyf dekades lank met sy musiek wêreldwyd bekoor, is amptelik deur prins William tot ridder geslaan uit erkenning vir sy bydrae tot musiek en liefdadigheid.
Rod, wat ’n stewige skeut Skotse bloed in sy are het, het seker gemaak sy uitrusting weerspieël die trotse tradisie met sy baadjie en geruite broek.
Please join me and RT this to congratulate @rodstewart, on collected his knighthood today with Penny Lancaster from Buckingham Palace. pic.twitter.com/LtC3TmEX6p
— Eamonn_RuthUK (@ERuthuk) October 11, 2016
Die 71-jarige het die geleentheid beskryf as iets wat hom laat voel het asof hy in die sewende hemel is.
“Ek wens net my ma en my pa kon hier wees om dit te sien,” het hy gesê.
Hy het ook die koningin bedank vir die geweldige eer wat hom aangedoen is en belowe hy sal homself “gedra”.
Sy spitsvondigheid het ook nie agterweë gebly nie. Toe prins William hom met sy lang loopbaan komplimenteer, het hy gou laat hoor: “Ek moet; ek het agt kinders!”
Rod het ook vertel sy orkes sluit nou agt vroue in – “meer as wat daar in die Withuis is”.
Sir Rod Stewart promises to wear his knighthood well https://t.co/eEL0jsMcKd
— Sky News (@SkyNews) October 11, 2016
Tydens ’n onvoorbereide onderhoud ná die seremonie het hy en sy vrou, Penny, die gek geskeer oor die riddersmedalje en dat hy dit elke oggend na die ontbyttafel gaan dra.
Video: Sir @rodstewart on how he is going to wear his knighthood for breakfast and how his mate #DonaldTrump 'isn't presidential material'. pic.twitter.com/MCTGLKvtuT
— Rebecca English (@RE_DailyMail) October 11, 2016
Tien kitsfeite oor Rod Stewart
1. Hy is op 10 Januarie 1945 as Roderick David Stewart in Highgate, Londen, gebore. Rod was die jongste van vyf kinders.
2. Sy musiekloopbaan strek oor meer as 50 jaar.
3. Rod is die afgelope nege jaar met die model Penny Lancaster getroud. Hulle is sedert 1999 ’n paartjie.
4. Hulle het twee seuns: Alistair en Aiden.
5. Rod noem Penny sy “muur van Berlyn” en iemand wat hy tot die dood toe liefhet.
6. Sy eerste groot enkeltreffer was Maggie May in 1971.
7. Hy het al meer as 100 miljoen albums wêreldwyd verkoop.
8. Sy stokperdjie as jongeling was modeltreinstelle.
9. Rod het onder meer koerante afgelewer, kortliks as ’n arbeider vir die Highgate-begraafplaas gewerk, in ’n begrafnisondernemer in Finchley gewerk, heinings opgerig en as ’n sierwerker sy daaglikse brood verdien.
Vyf van Rod Stewart se bestes
1. First Cut Is The Deepest
2. Maggie May
3. Sailing
4. You’re in my heart
5. Have You Ever Seen The Rain
Bronne: bbcnews.com, independent.co.uk, mirror.co.uk, boomsbeat.com