Net meer as ’n jaar nadat Deon Coetzee se karakter, Herman Croukamp, in ’n tragiese ongeluk in 7de Laan dood is, gaan hy weer op die kassie wees.
Deon sal vanaf 22 November in Isidingo-kykers se sitkamer kuier. Maar ook net vir ’n rukkie, sê Micaela Soliani, woordvoerder van dié SABC3-sepie.
“Deon gaan die rol vertolk van Conrad Scott, Angelique Scott se pa,” sê Micaela. “Hy kom vir ’n rukkie Horizon Deep toe. Ek kan nou nie die storie verklap nie, maar dit gaan beslis boeiend wees.”
Dit was ’n moeilike jaar vir Deon (54) sedert hy 7de Laan se stel verlaat het.
Toe Huisgenoot hom in November verlede jaar besoek op ’n vriendin se plaas buite Heidelberg, Gauteng, was sy lewe besig om stuksgewys uitmekaar te val.
Buiten dat hy nie meer ’n werk gehad het nie (sy kontrak by 7de Laan is nie hernu nadat dit verstryk het nie), wou sy vrou, Tertia (néé Moolman), ná ’n huwelik van net sewe maande skei. Dit was Deon se derde huwelik.
Tertia (48) het nog in September verlede jaar aan Huisgenoot vertel hoe Deon haar lewe in daardie sewe maande hel gemaak het. Hy het haar sielkundig afgeknou, verskree en soms selfs rondgepluk, het sy beweer.
Die dag nadat Huisgenoot in November verlede jaar by Deon was, sou hy hom by ’n psigiatriese inrigting aanmeld. “Ek gaan goeie, professionele psigiatriese hulp kry sodat ons kan agterkom waar die wortel van die kwaad is.
“En dan wil ek my kop ‘reboot’,” het Deon destyds aan Huisgenoot gesê.
Dit was sy eerste tree “op die regte pad”, soos hy dit genoem het. Op dié pad het hy behandeling vir sy drank- en dwelmverslawing gekry.
In November is hy vir ses weke in ’n kliniek opgeneem vir sielkundige behandeling. Daarna, van Februarie af, was hy nog ses weke in ’n drank-en-dwelmrehabilitasiesentrum – dit alles weens Tertia se onthullings aan Huisgenoot.
“Toe ek dit lees – alles wat Tertia gesê het, waardeur ek haar gesit het – het dit my gedwing om die fout by myself te soek,” het Deon aan Huisgenoot gesê.
“Ek het geweet ek moes professionele hulp kry. In die kliniek kon ek die sielkundige redes vir my aggressie begin verstaan. Want die frustrasie van nie weet waar dit vandaan kom nie, het tot uiting gekom in goed wat kon gebly het; in dinge wat al die opskuddings in my lewe veroorsaak het.”
![575]()
Vyf maande lank het Tertia nie met Deon gepraat nie; tot Mei vanjaar toe sy hom bel om sy prokureur se besonderhede te kry. Ondanks ’n hangende egskeidingsgeding was die twee kort voor lank weer bymekaar. Tertia het besluit om Deon ’n tweede kans te gee.
In Junie vanjaar, toe Huisgenoot met die paartjie gesels terwyl Deon by Tertia in Port Elizabeth gekuier het, het Deon vertel hy was toe vyf maande skoon van drank en dwelms.
“My hele wêreld het verander. Ek is skoon en nugter. Alles lyk en ruik anders. Dit is vir my lekker om dinge nou reg te doen en nie emosioneel uit verband te ruk nie.
“Ek hou niks teen enigiemand nie. Dit was deur my eie toedoen dat ek beland het waar ek was,” het Deon aan Huisgenoot gesê
Hoewel Deon gesê het hy het sy prokureur opdrag gegee om die egskeidingsgeding, wat hy aanhangig gemaak het, te stop, is dit nie stopgesit nie. Die paartjie is in Augustus, skaars drie maande nadat hulle versoen het, finaal geskei.
Boela van der Merwe, Deon se prokureur het destyds met die egskeiding aan Netwerk24 gesê Deon het van Johannesburg na Port Elizabeth getrek om dinge te probeer regmaak met Tertia.
“Maar die wa se wiele het nou heeltemal afgeval en dinge het glad nie tussen hulle uitgewerk nie,” het Boela gesê.